Assendelft 1695 - Skeepssoldyboek

Die oudste bron wat verwys na Samuel Walter(S)

 
       
 

 

Die vaart van enige VOC-skip en al die passasiers en beamptes  (“opvarendes”) word aangeteken in ‘n aparte boek, die Skeepssoldyboek.  Twee identiese eksemplare word gemaak.  Die eerste word gedeponeer in die Batavia argief met die aankoms van die skip en ‘n tweede word na die betrokke Kamer (een van die ses groepe in die VOC) in die vaderland (Patria) gestuur.  Die Assendelft het onder die kamer van Amsterdam uitgevaar.  Slegs ‘n paar boeke in die laat 17 de eeu het behoue gebly waarvan die Assendelft se vaart in 1695 na Ceylon gelukkig een van hierdie  boek was wat in die Den Haagse Rijksargief besigtig kan word.   In die soldyboek verskyn ‘n magdom van inligting van elke opvarende in twee kolomme gemerk debiet en krediet. Die inligting sluit onder andere in: voornaam, van, stad van herkoms, rang by aanstelling, salaris (gagie), toerusting verskaf, duur van reis, testament (maandceel), totale koste vir VOC, skuld en betalings aan familie in Nederland, laaste uitkering, uitleen van amptenaar, datum wanneer opvarende ‘n vryburger word (of diens verlaat/terugkeer) en sterfdatum1.  

Van Samuel Walter se inskrywing in die Skeepssoldyboek van die Assendelft (1695)2 kan heelwat interessante inligting gekry word wat in baie gevalle nie in ander bronne beskikbaar is nie.  Die volledige inskrywing vir Samuel word links getoon ( druk op die dokument om 'n vergroting te kry).  Hierdie is dan ook die oudste bron en eerste verwysing na Samuel Walter van Prespoort.  Twee maande se salaris (gagie) van 18 Gulde word in Samuel se hand gestop voor sy vertrek. Samuel koop die verpligte uitrusting vir 150 Gulde en leen die geld by die VOC.  Samuel skuld dus 168 Gulde aan die VOC nog voor hy vertrek!  Daar is feitelik geen inligting oor Samuel se tyd in Amsterdam en omgewing. Volgens die skeepssoldyboek skuld Samuel geld aan ‘n sekere Jan van den Bergh (67 Gulde) en Engeltje(n) Andries (76 Gulde) wat van sy salaris afgetrek word en deur die VOC betaal word in 1698,1699  en 1700.  Jan van Den Bergh word slegs een maal betaal terwyl die vrou, Engeltje, oor al drie jare betaal word. Ons is nie seker of hy geld by hulle geleen het nie of dat hy moontlik hulle goed geken het, of selfs by hulle gewoon/geloseer het in Amsterdam.   Twee belangrike datums verskyn in die krediet (regterkant) kolom, naamlik sy vryburger status op 24 Februarie 1711 en sy sterfdatum op 13 Desember 1725.

1          VOC 1.04.02, Indekse, p 113, Den Haag Argief.

2          VOC 1.04.02, Scheepssoldijboeken, 5428, Den Haag Argief.

 

 

Debiet

 
   

Krediet